Van De La Rey tot nou

BOK VAN BLERK

Van De La Rey tot nou

‘n Dekade van Bok van Blerk en dis net die begin! Kan jy onthou waar jy was of waarmee jy besig was toe jy die eerste keer Bok van Blerk se De La Rey oor die radio hoor speel het? Moeilik om te glo, maar ons praat van 10 jaar terug… daardie oomblik toe die klank van Afrikaanse musiek verfris is en mense laat regop sit het.

Dis een van die redes hoekom hierdie jaar beslis ‘n groot jaar gaan wees vir Bok. Nie net vier hy die 10-jaar herdenking van die liedjie wat van hom ‘n bekende naam in die Afrikaanse musiekwêreld gemaak het nie, maar hy doen dit sommer in styl ook. Met totale albumverkope wat naby aan die 1-miljoen kerf staan, is die tyd reg vir ‘n “Van De La Rey tot nou” terugblik op sy loopbaan. Die nuwe album sal ‘n versameling wees van al sy grootste treffers, alsook 4 nuwe liedjies in tipiese Bok-trant… ‘N Propvol album met liedjies wat die toppunt van trefferslyste regoor die land gehaal het of nog sal bereik.

Bok sal ook op ‘n landwye toer vertrek waar hy nie net kleiner plekkies sal besoek nie, maar ook op die hoofverhoog by van die land se bekendste musiekfeeste sal optree… als om dankie te sê vir die mense wat hom reeds ‘n dekade lank ondersteun. Daar is selfs gerugte dat Bok sal terugkeer na die presiese plek in Hoedspruit waar hy De La Rey die eerste keer voor ‘n lewendige gehoor gesing het! As jy wil hê dat Bok en sy band met sy “Van De la Rey tot nou” – toer in jou dorp moet kom optree, kontak vir lindi@mozi.co.za

Verder beoog Bok ook om regdeur die jaar ‘n nuwe reeks handelsware en items by sy aanlynwinkel bekend te stel… aanhangers moet maar seker maak hulle besoek www.bokvanblerk.co.za gereeld om nie op enigiets uit te mis nie. Maar dis nie waar dinge stop nie. In 2016 gaan Bok ook die gasheer wees vir die Hanna Charity Liefdadigheidsgolfdag, hy sal die temalied vir die nuwe Afrikaanse rolprent, “Modder en Boed,” sing… ‘n rolprent waarin hy self ook ‘n klein rolletjie vertolk en daar word gewerk aan ‘n dokumentêr vir TV met die naam “Van De La Rey tot nou.”

Of jy nou kan onthou presies waar jy was 10 jaar terug toe jy die naam Bok van Blerk die eerste keer gehoor het of nie, een ding is ‘n feit… as Afrikaner het jou bors so bietjie geswel van trots en jou hart so bietjie warmer geklop. Bok is baie beskeie oor die eer en sal altyd erkenning gee aan sy aanhangers… die mense wat hom ondersteun, wat sy musiek koop en by sy konserte opdaag… die mense wat hom gebring het van De La Rey tot nou.

Vir meer inligting oor wat 2016 alles vir Bok van Blerk en sy aanhangers inhou, volg hom gerus op Twitter by @BovanBlerkReal, Facebook, Instagram of sy webtuiste www.bokvanblerk.co.za

Website Security Test