Bok Vir Sports Gholf Toernooi
Gewilde tv reeks terug met ‘n Bok, ‘n paar voȅltjies en dalk ‘n arend of twee.
Na die gewildheid van die eerste reeks van Bok vir Sports, behoort dit as geen verrassing te kom dat Seisoen 2 oppad is nie. En weer sal die aanbieder, Bok van Blerk sy naam gestand doen om ‘n reeks van 13 episodes te lewer wat sal bewys dat hy ‘n bok vir sports is.
Verfilming van die reeks wat in 2015 op kykNET uitgesaai sal word begin reeds middel-Oktober 2014. En weer sal Bok se vriende by hom aansluit om nog meer vriende te maak. En waar word beter vriendskappe dan nou gesmee as op ‘n gholfbaan? Dis reg… die hele reeks speel af op 12 van die land se voorste en interessantste gholfbane met elke episode wat fokus op ‘n ander gholfdag en episode 13 wat oor die finale toernooi sal handel waarin die 4-bal wenners van die vorige 12 gholfdae teen mekaar te staan sal kom. Selfs vir diegene sonder ‘n voorgee beloof die reeks heelwat vermaaklike pitkos. Behalwe vir die gholfaksie, sal interessante dinge in die omgewing en Bok se musiek ook deel vorm van elke episode.
Maar jy hoef ook nie te wag vir die reeks om uitgesaai te word voordat jy kan deel in al die opwinding nie. Enigiemand is welkom om enige van die gholfdae of prysuitdelingsfunksies by te woon met ‘n vertoning deur Bok en van sy mede-musikante as die kersie op die koek. Pakkette wissel van R50 vir laerskoolkinders en R100 vir volwassenes wat toegang tot die prysuitdeling en lewendige vertoning insluit tot vanaf R115 vir laerskoolkinders en vanaf R165 vir volwassenes waarby ‘n heerlike braaimaaltyd bo-en-behalwe die vertoning en prysuitdeling ingesluit is.
Verder is daar pakkette vir volwassenes wat volle dag-toegang insluit teen R150 per persoon en BBP-pakkette teen vanaf R215 per persoon wat al die bogenoemde insluit. Daar sal ook die geleentheid wees vir ‘n gas om teen Bok te speel en waar die verloorder sy broek sal moet afstaan. Hoekom? Want te danke aan die borg, Tice Pro, sal die verloorder se broek opgeveil word ten bate van ‘n liefdadigheid van Bok se keuse. En natuurlik is daar die kans vir enige speler om by enige van die gholfdae in ‘n splinternuwe Ford motor, geborg deur Action Ford Roodepoort, huis toe te gaan. Slaan net ‘n kolhou
So, sleep die dagboek nader en kyk by watter van die volgende gholfdae jy wil uitslaan of afslaan:
- 18 Oktober: Sesambos Gholfbaan, Swartwater
- 1 November: Umdoni Park Gholfbaan, KwaZulu-Natal
- 7/8 November: Legend Golf & Safari Resort, Limpopo
- 5 Desember: Silverlakes Gholfbaan, Gauteng
- 13 Desember: Pinnacle Point Gholflandgoed, Wes-Kaap
- 19 Desember: Fynbos Gholflandgoed, Oos-Kaap
- 21 Desember: Visrivier Gholfbaan, Oos-Kaap
- 13 Februarie: Pecanwood Golf and Country Club, Noordwes
- 7 Maart: Royal Swazi Country Club, Swaziland
- 21 Maart 2015: Heritage Gholfbaan, Mauritius
- 2/3 April 2015: San Lameer Gholflandgoed, KwaZulu-Natal
- 11 April 2015: Pezula Kampioenskapbaan, Oos-Kaap
- 1 & 2 Mei 2015: Die Finaal, Die Gary Player County Club en Lost City Gholfbaan, Noordwes
As jy jouself ‘n bok vir sports ag, sal Bok jou graag by een van die gholfdae wil sien. Hope pret, lekker pryse en herinneringe wat ‘n leeftyd sal hou is als deel van die planne.
Om meer uit te vind oor die gholfdae, hetsy jy wil speel in ‘n 4-bal of net ‘n toeskouer wil wees, besoek die Bok Vir Sports Bladsy en volg @BokvanBlerkReal op Twitter vir enige nuus.
Om jou 4-bal te bespreek stuur ‘n e-pos aan bokvirsports@mweb.co.za.





