Bok van Blerk sing weer vir Afrikaner-harte

BOK VAN BLERK

Bok van Blerk sing weer vir Afrikaner-harte

Wanneer Bok van Blerk en Johan Vorster kragte saamsnoer om ʼn liedjie te skryf, kan
luisteraars sommer weet ʼn liedjie wat met die Afrikaner-hart praat is in wording.
Bok se splinternuwe enkelsnit is getiteld “Ik ben een Afrikaander”. Die liedjie handel oor
die storie van Hendrik Bibault wat die woorde “Ek is ʼn Afrikaner” uitgeroep het toe die landdros
op 22 Februarie 1707 hom ʼn loesing gegee het.

Hierdie verwysing na “Afrikaander” is uitsonderlik aangesien Hendrik hiermee bedoel het dat
hy in Afrika gebore is en nie ’n buitelander, soos talle Nederlanders of Franse aan die Kaap,
was nie. Volgens die sanger en musikant is daar ʼn nuwe generasie Afrikaners wat graag die verlede
wil onthou, bewaar en bou op dit wat goed was.

“Daar is ʼn nuwe generasie Afrikaners wat toekomsgedrewe is en wil help bou aan ʼn beter
toekoms vir almal wat in Afrika gebore is. Hierdie lied is deur daardie Afrikaners geïnspireer.”
Bok, wat onlangs getref het met die snitte “Dis raak” en “Die Afrikaner maak so” saam met
Bernice West, sê dit beteken baie vir hom om ʼn Afrikaner te wees en om ʼn opbouende en
positiewe verskil te maak deur sy stem te laat hoor deur musiek.

“Vir die eerste keer in dekades is ons moedertaal weer onder geweldige druk van buite ons
gemeenskap. Ek glo mense sal verstaan dat ons taal deel van ons kultuur is, en wanneer ons
taal bedreig word, word ons unieke Afrikaner-kultuur bedreig.”

“Ik ben een Afrikaander” is ʼn sterk liedjie met ʼn saamsing-kreet met ʼn storie wat
luisteraars se verbeelding sal aangryp.
Bok is al sowat twee dekades deel van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf en sonder die keer
toe hy die volkslied gesing het voor ʼn Springbok-wedstryd op Loftus Versveld as een van sy
hoogtepunte uit.

Die musiekvideo vir “Ik ben een Afrikaander”, volg die storie van Afrikaner-pa wat sy dogter
op ʼn staptoer neem en haar wys waar Afrikaans gebore is.
Die video is geskiet by die geboorteplek van Afrikaans by die Groenbergskool op Schalk Burger
Sr se plaas, Welbedacht, net buite Wellington.

Inhoud Huis Musiek en Bok van Blerk Produksies het die video vervaardig, terwyl Lee Foxcroft
die fotografie behartig het en die regie is deur Johan Vorster.
Vir Bok is dit ook belangrik om aan te hou musiek maak, maar bowenal om ook ʼn goeie pa te
wees vir sy drie spruite.

“Ek is gebore om mense te vermaak, maar ek is ook ʼn doodgewone man en pa wat lief is vir
sy kinders, ons land, die buitelewe, visvang, jag en braai.”
“Ik ben een Afrikaander” word op 4 Oktober 2024 op alle digitale platforms uitgereik en
die musiekvideo word op 9 Oktober 2024 vrygestel.

Website Security Test