Met sy nuwe album roep Bok van Blerk Hoor Ons!

BOK VAN BLERK

Met sy nuwe album roep Bok van Blerk Hoor Ons!

Bok van Blerk is terug met ’n splinternuwe album, getiteld Hoor Ons!, en oudergewoonte sal liedjies op dié album hartsnare roer, aanhangers ’n trotse patriotiese gevoel gee en soms ook lekker laat lag. Dié album sal teen einde Augustus op die rak wees. Op Hoor Ons! getuig Bok weer van sy liefde vir die land – eie aan hom.

Veertien jaar het verloop sedert Bok se massiewe treffer, De La Rey, in 2006 vrygestel is en in die jare wat daarop gevolg het, het hy gehore se harte met trots laat klop met daaropvolgende treffers soos Ons Vir Jou Suid-Afrika, Sing Afrikaner Sing, Afrikanerhart, Kaplyn, Tyd Om Te Trek en Land van Melk en Heuning. Bok het sy aanhangers ook bederf met opgewekte treffers soos Vodka en OJ, 68 Chevy, Koue Voete en die meer onlangse treffer saam met Appel, Lemoene. Met ses albums reeds vrygestel spog hy ook met bykans ’n halfmiljoen albumverkope en ’n rits toekenninngs – soos ’n SAMA in 2010 vir sy album Afrikanerhart wat as beste verkoper in 2009 geëindig het.

Met meer as 212 000 Facebook-aanhangers, 173 000 volgelinge op Twitter en 102 000 volgelinge op Instagram, bewys dit Bok se gewildheid onder Afrikaanse musiekliefhebbers en is hy steeds een van die groot trekpleisters by gesogte produksies soos Afrikaans is Groot, wat deur bykans 120 000 konsertgangers jaarliks, geniet word.

Hoor Ons! bevat twaalf snitte waarvan Bok self aan sewe van die snitte geskryf het. Hy betree ook ’n nuwe era in sy musiek met hierdie album wat die eerste sal wees wat hy onafhanklik vrystel. Hiervoor het hy en die span van Coleske Artists saam gespan met musiekkeuses en produksie, bemarking en verspreiding.

“Dit is altyd lekker om in die bevoorregte posisie te wees om ’n album te kan vrystel. Ek geniet die tyd in die ateljee en om te skryf en nuwe materiaal bymekaar te maak. Deesdae is dit nie maklik nie, want albums verkoop nie meer soos in die ou dae nie. Die insetkoste om ’n vollengte album uit te bring is hoog en dis ’n voorreg om wel ’n vollengte album te kan vrystel,” het Bok nederig oor sy nuwe projek vertel.

“Gehore kan ook uitsien na ’n splinternuwe vertoning wat ek en my orkes gaan doen,” het hy verklap.

Bok se eerste enkelsnit vanaf Hoor Ons! is ’n liedjie getiteld Was, geskryf deur die bekroonde liedjieskywer, Johan Oberholzer. Dié lied gaan jou nostalgies laat dink aan jou verlede, maar sal ook moed vir die toekoms gee.

“Ek dink dit is belangrik vir mense om te besef waar hulle in die lewe is. Baie keer het jy gedroom van iets en dan is jy daar. Dit is belangrik om dit in daardie oomblik te geniet en te waardeer. Dalk dink jy terug en is jy nié waar jy wou wees nie, dan moet jy begin om ’n verandering in jou lewe te maak,” verduidelik Bok.
“Vir my gaan die liedjie Was daaroor om in die spasie of plek in jou lewe te kom waar jy kan sê okay, hier is ek nou, ek kan niks verander wat in my lewe gebeur het tot dusver nie, maar ek kan die pad vorentoe verander. Vra jouself of jy gelukkig is en besluit om geluk te kies,” het Bok die boodskap wat hy wil oordra, verduidelik.

Die musiekvideo van hierdie enkelsnit is deur die fenominale Christian Wolf verfilm met ’n verwerkte konsep van Sean Else, wat destyds een van die skrywers van De La Rey was. Die video is verfilm in ’n huis wat onlangs afgebrand het en weerspieël dit wat eens vir jou kosbaar was, wat jy nie meer het nie en dít wat jy vir jouself daaruit kan bou.

“Al word jy platgeslaan en die lewe gee jou ’n vuishou, kan jy altyd weer opstaan,” verduidelik Bok die diep boodskap van die musiekvideo.

Die video word op Vrydag, 23 Augustus, op die kykNET-program, Die Groot Ontbyt, vrygestel.

Aanhangers kan uitsien na Sluise Van Die Hemel, wat hy saam met Robbie Wessels opgeneem het, sowel as Die Land, saam met Steve Hofmeyr, Jay, Ruhan du Toit en Bobby van Jaarsveld. Herman Kleynhans, van die groep Twee, het saam met Bok van Blerk aan een van die snitte, Heeltemal Deurmekaar Verward, geskryf terwyl Pietman Geldenhuys en Jaco Mans (Bok se jarelange kitaarspeler) het aan die snaakse snit, Blouwillebliksemsfontein, geskryf wat jou op jou voete gaan hê.

Die snit, Land en Strand, wat die temalied van sy VIA-reeks is, is ook op die album ingesluit en ’n treffende snit, Voetspore, is saam met Loki Rothman neergepen. Die titelsnit, Hoor Ons!, is geskryf deur Johan Oberholzer en beloof om nie net ’n groot treffer te wees nie, maar om ook ’n ikoniese snit vir die Afrikaner volk te word

Aanhangers kan uitsien na musiek wat hulle gaan raak soos nog nooit tevore nie, gaan laat dans en lag soos hulle nog nooit het nie en hul gaan saambring as ’n trotse nasie.

Bok van Blerk roep Hoor Ons! en dis verseker: met hierdie album gaan gehore regop sit en luister.

Website Security Test